By SaFert is die seisoen in volle swang — “Hier staan ons nie stil nie,” sê Dawie Schloms direkteur van SaFert laggend oor die huidige tempo by die fabriek.
Daar is tans ’n agterstand by die fabriek as gevolg van die hoë volume bestellings wat ingestroom het. Die grootste aanvraag is tans vir SaFert Base en Compofos-produkte, asook SaFert se eie mengsels wat spesifiek ontwikkel word vir produsente se behoeftes.
“Ons is definitief besiger as vorige jare,” vertel hy. “Ons het meer produsente bygekry en ook meer mark gewen.”
Ten spyte van die druk gaan ontwikkeling by die fabriek voort. SaFert het onlangs verbeterings aangebring met nuwe fasiliteite vir masjinerie, ’n toegewyde stoor- en voorraadarea, asook ’n nuwe mobiele kantoor om bedrywighede meer doeltreffend te bestuur.
Wanneer gevra word waarop die grootste fokus tans val, is die antwoord eenvoudig: “Produksie en dienslewering.”
Die huidige vraag kom hoofsaaklik vanuit die saai- en rooibosbedryf, met rooibosprodusente wat tans sterk ondersteun word. Vanaf Augustus skuif die fokus geleidelik na kernvrugte soos pere en appels.
Maar soos die meeste produsente weet, bly die landboubedryf vol uitdagings. Die weer speel tans ’n groot rol, met skade aan vrugte as gevolg van intense reënval oor kort periodes, en stygende brandstofpryse wat druk op produsente plaas.
“Mens probeer maar moed inpraat en help waar jy kan,” sê hy. “Soms is raad en ondersteuning ook belangrik.”
Een van SaFert se produkte wat steeds sterk presteer, is die bekende SaFert Base hoendermispellet. Volgens hom wys die produk veral goeie resultate in gronde waar voedingstowwe maklik deur uitloging verlore gaan. Die produk help om loging te beperk en voeding langer beskikbaar vir die plant te hou.
SaFert fokus steeds daarop om kompeterende pryse aan te bied sonder om kwaliteit in te boet. “Ons werk met goeie, getoetste produkte waarop produsente kan vertrou.”
Tog bring die hoë aanvraag sy eie uitdagings mee. Een van die grootste struikelblokke is om hoendermis droog te hou tydens nat toestande.
Op die vraag oor nuwe tendense in landbou, noem hy vinnig die groei van tegnologie, tegnologie raak al hoe groter deel van boerdery.”
Al is die seisoen uitputtend, bly die span by SaFert gefokus om produsente te ondersteun met praktiese oplossings, betroubare produkte en diens wat saam met die landboubedryf groei.
